Page 1Page 2Page 3

Op Kleine Zalze-landgoed by Stellenbosch is ‘n huis wat van buite af net so pragtig soos die res lyk. Maar gee ’n treetjie oor die drumpel en jy weet dadelik: Die plek is anders.

Die ooptes en lig kom maak jou hart dadelik rustig, die honderde, nee, duisende, vlinderfyn-blomblare teen die mure dwing jou om tot stilstand te kom.

Die oase is die tuiste van Nina Brown en haar gesin – manlief Donald en hul kinders Tinka, 23, pas terug ná twee jaar in Londen; Lisa, 20, fotografie-student; en die jonge heer Donald, 16.

Die Brown-huis is ’n ode aan die sintuie, als geïnspireer deur die vorms, kleure en teksture in die natuur.

Roosblaarmotiewe is regdeur die huis te vind: Plek-plek is dit uit hout gekerf en op pleksiglas vasgesit, hier en daar op meubels geverf, selfs in ’n soort skuimrubber gegiet.

Al die kunswerke in die huis het Nina sorgvuldig self gemaak: Daar is ragfyn blaartjies uit ’n mengsel van harpuis, gom en Polyfilla, wat uiteindelik bo-op mekaar teen ‘n muur vasgeplak is. Jy kan jou amper verbeel jy sien ’n woud se blare wat ritsel in die wind. Daar’s ook vrouefigure wat Nina ontwerp en uit perspeks laat sny het – min wetende dat sy ’n paar jaar later ’n stylkonsultant sou word wat vroue sou help om hul Godgegewe skoonheid te ontdek.

Die swart tyd

“Die huis het met my kom gebeur,” vertel Nina terwyl haar vingers kort-kort aan die vilthalssnoer om haar nek raak.

“In 2008, terwyl ons hierdie droomhuis aan’t bou was, het ek gevoel soos ’n blom wat verlep is. Ek het twintig jaar lank intens hard gewerk, eers om die Nika-kinderklerereeks op die been te bring en toe later om dit tot ’n franchise uit te brei.

“Na Nika het Icing en Sugar gevolg, waar ons ingevoerde klere verkoop het. Dit was bloedsweet by tye. Dis ‘n uiters kompeterende mark, die pas is vinnig en die onderliggende spanning om altyd nuut en vars te bly dink, immer teenwoordig.

“Ek het vyf jaar lank elke agt weke oorsee gegaan om aankope te doen. Die gedurige gevlieg na die Ooste het later sy tol geëis, ek het geen natuurlike slaaproetine meer gehad nie en die kinders het my min gesien. Wanneer ons wel saam was, was ek altyd onder druk.” Sy was soos ’n hamster op ’n wieletjie, onthou Nina. Van die klerebedryf het sy baie geweet, maar feitlik niks anders geken nie. Boonop het mense haar graag opgesoek en oor haar werk gepraat, maar min het haar regtig as méns geken.

In 2005 het hulle gehalt geroep en alles verkoop. En toe pak sy ’n nuwe projek aan – die bou van haar en haar man se droomhuis.

“Die bouery was nie maklik nie en ek is dag na dag gekonfronteer met my eie emosies. Toe die huis uiteindelik klaar was, het ek glad nie meer van myself gehou nie. Ek’t besef dat ek al jare lank besig is om opdragte te gee, te baklei, verwagtinge te bestuur… en min vrede in en om my het.

“Ek was skielik op ‘n baie alleen plek. Vir die eerste keer ooit was ek beskikbaar vir ’n kuier, maar ek het nie geweet hoe jy dit doen nie! “Ek sou mense nooi vir ko.e, maar moes soms tot twee weke wag om iemand te sien, want almal is so ‘besig’. Ek sou in Stellenbosch ry en vroue in viertrekvoertuie sien met ’n selfoon in die hand; ek het so gewens iemand wou my ook bel, miskien net vir ’n vinnige kuiertjie.”

Page 1Page 2Page 3